Geskiedenis

Die hoeksteen van die Kruiskerk op George is op 14 April 1832 deur Ds Johan SS Ballot gelê. Die heer CP Visser, wat saam met die drie gehuurde slawemesselaars per ossewa in Kaapstad gaan haal moes word, het as bou-opsigter opgetree. Die fondament moes ses voet diep en vyf voet wyd gegrawe word sodat dit ‘n muur van drie voet dik “met deszelfs zwaare lasten” sou kon dra.

Die boumateriaal het uit 1800 wavragte fondament-, stoep – en platklip en 1 896 756 bakstene bestaan. Bakstene wat deur die gemeente self in sy eie steenoonde gebrand is, is nie bygereken nie. Die ontsaglike hoeveelheid geelhout (die hele plafon, die pilare onder die galerye en die panele van die galerye bestaan daaruit) en stinkhout wat gebruik is, is uit die plaaslike houtbosse afkomstig en groot hoeveelhede het ook van Knysna en Plettenbergbaai gekom.

Die deur van die hoofingang is van kiaathout en is per ossewa van Kaapstad na George vervoer. Die preekstoel wat deur ene Heyns ontwerp en binne ‘n jaar deur hom voltooi is, is uit plaaslike stinkhout vervaardig en het destyds R400 gekos. Riet vir die oorspronklike rietdak en kalk vir die pleisterwerk was uit die distrik Riversdal afkomstig.

Weens geldnood het dit twaalf jaar geneem om die kerkgebou teen ‘n koste van sowat R20 000 tot R24 000 te voltooi. Op Sondag 9 Oktober 1842, is die nuwe Godshuis plegtig ingewy en kon Ds Ballot, wat deurentyd die siel van die onderneming was, die gemeente toespreek na aanleiding van Psalm 26 vers 8 “Here, ek het lief die woning van U huis en die woonplek van U heerlikheid”.

In April 1873 is die grondvloer deur ‘n plankvloer, en in 1880 die toe reeds erg verweerde rietdak deur ‘n leidak vervang. Die huidige orrel, wat R1 800 gekos het, is in 1879 deur sestien gemeentelede geskenk.

Die geskiedkundige ou sonwyser langs die paadjie van die hoofingang, is een en ‘n kwart eeu gelede deur landmeter Edmore, opgerig.

Kort na die groot kerkhernuwing in 1904, wat R2 600 gekos het, het ‘n geweldige ramp die gemeente getref toe die kerktoring op Woensdag 13 September 1905, om vyfuur die oggend ineengestort het. Reën wat in die loop van jare by die oopstaande vensters van die toring ingedryf is, het die houtwerk ongemerk laat verrot en die mure sodanig verswak dat dit nie bestand was teen die swaar neerslag wat op 11 September begin en op 13 September reeds sowat 10 duim gemeet het nie.

Die heropbou van die toring is weer moedig aangepak en onder toesig van die argitek Hesse, is die werk in 1906 ten ‘n koste van R5 300 deur die boumeesters Moor en Tedbury voltooi. Die teenswoordige kerkklok is ook toe aangeskaf, terwyl die Londense fima Philipson en Stow die toringhorlosie geskenk het.

Die laaste grootskaalse verbeterings aan die kerk is in 1964 aangebring, toe die gebou van buite en binne opgeknap en gerestoreer en paneelwerk tot by die vensters aangebring is. Sodoende probeer die Kerkraad nog steeds sy plig doen “om Gods huis een erfstuk der vaderen en een sieraad Gods in orde te houden”.

Geskiedkundige Oorsig Van Die Orrel

Toe die kerk op 9 Oktober 1842 ingewy is, was daar geen instrument vir sang begeleiding nie. ‘n Blaasorkes wat met ‘n perdewaentjie van Stellenbosch af gekom het, het in die voorportaal gestaan en gespeel “Gaan deur sy poorte in met lof”, terwyl die gemeente die kerk die eerste maal betree.

Van Januarie 1816 tot 1846 het die gemeente gesing olv ‘n voorsanger. In 1846 het N O’Connell, FA Zwemmer en HH Allen namens 79 inwoners van die dorp die kerkraad skriftelik ‘n seraphine (Harmonium) aangebied. Dit is aanvaar en hy het die gemeente sewentien jaar gedien. In 1863 het Ds Kuys, kort na sy aankoms, die kerkraad beweeg om ‘n ander harmonium aan te koop. Die orrelis was ene Weitzman. Lg orreltjie kan tans nog in die George Museum besigtig word. Die orrel was blykbaar nie van die beste nie, want in April van die volgende jaar is aan spykers en ander benodighede vir reparasie aan die orrel RDS. 300 bestee. (Riksdalers) Onmiddelik na Ds Herald se vertrek in 1823 het die kerkraad besluit om weens die treurige toestand van die orrel, die verminderde kerklike inkomste en die vertrek van die orrelis, Cornelius Valkenburg, die orrel te laat stilstaan. So het die orrel dan uiteindelik geswyg.

Op 13 September 1879 het die gemeente die huidige orrel aangekoop van die Engelse orrelbou firma William Hill & Son. Hierdie firma het ‘n baie goeie naam gehad en was veral bekend vir die pragtige frontontwerpe van sy orrels, waarvan die orrel in die St George’s Katedraal in Kaapstad ‘n goeie voorbeeld is. Hill is beskou as die firma wat die Britse orrel tot die hoogste peil van perfeksie gebring het. Sy orrels was in wese gematig, sonder uiterstes en sonder skerpheid met ‘n pragtige ryk, ronde klankkwaliteit – soos gehoor in die orrel van die NG Gemeente George. Die firma het in 1916 met Norman & Beard saamgesmelt en bestaan vandag nog. Hill het ongeveer agtien orrels na Suid Afrika uitgevoer, waarvan minstens vier nog in hul oorspronklike toestand verkeer, nl die Weslyan Church, Grahamstad; die NG Kerk George en die NG Kerk Kruisrivier. Laasgenoemde orrel is tans in die St Francis van Assisi-Kerk, Simonstad. Die Hill-orrel in die St George’s Cathedral, Kaapstad is ook min of meer nog oorspronklik.

Hill was ook die bouers van vier katedraalorrels in Suid Afrika: St Mary’s Cathedral, Kaapstad; Pro-Cathedral, Johannesburg; St George’s Cathedral, Kaapstad en ook ‘n vierde orrel. Eersgenoemde drie is reeds vervang of herbou, terwyl die huidige orrel in St George’s Cathedral in Kaapstad min veranderings ondergaan het sedert Cooper, Gill & Tomkins dit in 1909 geïnstalleer het. Vermeldenswaardig is ook die Hill-orrel wat in 1858 as derde orrel van die NG Kerk Stellenbosch in gebruik geneem is. Die soliede konstruksie en duursame materiaal, so kenmerkend van William Hill se instrumente, is ook hierin bewys dat Stellenbosch se orrel 95 jaar lank tot in 1953 diens gedoen het.

Die orrel is aan die gemeente geskenk deur sestien lidmate en het £900 gekos. Ongelukkig kon geen inligting oor die koop en vervoer van die orrel opgespoor word nie. Die orrel is oorspronklik in die oostelike vleuel van die kerk ingebou deur die Kaapstadse orrelbouer WJ Hadfield en is feestelik ingewy op Saterdag 13 September 1879. Tydens die inwydingseremonie het, wat musiek betref, die gemeente eers Psalm 68:10 sonder die orrel gesing. Na skriflesing, koorsang en gebed het die bekende musikus van daardie tyd, mnr Rocco de Villiers, die orrel vir die eerste keer ingespeel. Sy vermoë om “wonderbaren toonen aan het instrument te ontlokken” het die groot skare verstom. In sy verslag aan die Kerkraad het hy verklaar dat “het orgel …… wat de constructie en rangskikking alsmede het uiterlyker van aangaat, naar zijn inzien voor geen enkel orgel in deze kolonie …. behoeft te onderdoen …. Het materiaal bestaat uit het allerbeste” Hoewel daar nie opgeteken is wat hy gespeel het nie, was hy na berig is, wel ‘n meester van die instrument wat geweet het hoe om wonderbaarlike klanke daaruit te ontlok – hy kon die orrel “laat praat”. Die gemeente het voorts gesing “Hoe lieflik is U wonings Heer der leërskare” en die geleentheid is afgesluit deur die koor met “Dat de hemelen zight verblyden”.

In 1917 het die kerkraad besluit om ‘n galery in die oosvleuel van die kerk in te bou en die orrel is toe verskuif na sy huidige ietwat eienaardige en ongerieflike plek agter die preekstoel. In 1946 is die drie tongwerke vernuwe en in 1982 is twee pedaalregisters bygevoeg, ondanks vroeëre aanbevelings dat die orrel in sy oorspronklike toestand bewaar moes word – derhalwe is die orrel nou die grootste “byna oorspronklike” Hill orrel in Suid Afrika. Die orrel het twee manuele en pedaal met ‘n meganiese speelaksie.

Die disposisies is soos volg (in Engels).

  • Manuaal I Manuaal II Manuaal III
  • Bourdon 16 Open Diapason 8 Open Diapason 16
  • Open Diapason 8 Salicional 8 Bourbon 16
  • Stopped Diapason 8 Hohl Flute 8 * Bass Flute 8
  • Dulciana 8 Principal 4 * Schalmei 4
  • Principal 4 Piccolo 2
  • Wald Flute 4 Cornopean 8
  • Twelfth 3 Oboe 8
  • Fifteenth 2
  • Mixture 3
  • Trumpet 8 ( * Bygevoeg in ongeveer 1982)

Gesien in die lig dat die orrel ‘n blaasinstrument is, is hy afhanklik van wind om sy klank voort te bring. Aan die oostekant van die orrel is daar ‘n balk wat gebruik was om die blaasbalk mee vol te pomp. Die diakens het aanvanklik diensbeurte gehad om gedurende die speel van die orrel die lug te pomp. Hulle het agter ‘n houtgordyn gestaan en moes die blaasbalk op die vol merkie hou. Hulle het dan ook hulle name en datums uitgekrap in die panele van die orrel as herinnering aan hulle werk. Later van tyd is daar ‘n permanente pos voor geskep en die veertienjarige seun, D van Rooyen, was die eerste met ‘n vergoeding van 7/6 per maand. Hy word ‘n orrelblaser genoem. Heelwat jare later in 1917 tydens die eeufeesjaar is besluit om die orrel deeglik te laat nasien en is ‘n elektriese blaser ingesit wat die handpomp metode vervang het.

In die 126 jaar sedert die aankoop van die orrel, was daar vele orreliste. Die vorige orrelis, Mnr Bertie van Straaten, het egter die pos die langste beklee, nl 23 jaar. Een van die eerste orreliste is afgedank weens die gebruik van growwe taal! ‘n Ander het soms gedurende die opneem van die kollekte een van die treffer liedjies van daardie tyd gespeel, nl “Run rabbit, run, run, run”. Op ernstiger noot is die Messias van Handel in die vroeë sestiger jare in die kerk aangebied, wat gereken is as ‘n prestasie vir ‘n plattelandse dorp van daardie tyd.

Die Moedergemeente George is baie dankbaar en trots om oor so ‘n pragtige orrel te beskik en kan in sy 126ste jaar net hoop en beplan vir nog groter hoogtes op die gebied van kerkmusiek in die toekoms, tot verheerliking van God.

Vorige Orreliste

Harmonium Orreliste

  • Mnr Weitzman, 1816
  • Mnr Frederick Pohl, 1819
  • Mnr Cornelis Valkenburg, 1821
  • Mnr Peterson (Koster), 1855
  • Mej Dreyer, 1865
  • Mnr Peterson (Koster), 1866
  • Mej Zwemmer, 1867
  • Mej Zwemmer (Suster)

Huidige Hill-orrel Orreliste

·         Mej Zwemmer, 1879

·         Mej Dreyer, 1885

·         Prof van Oosten, 1900

·         Attie Louw, 1901

·         Mev Rossouw, 1901

·         Mej Dreyer, 1902

·         Mej Beyers, 1923

·         Mev Vlok, 1923

·         Mej Schmidt, 1924

·         Mev Schroeder (gebore Vlok), 1940

·         Mnr CP de Jager, 1946

·         JH van Eck, 1948

·         Mnr Fred Gericke, 1952

·         Mej de la Querra, 1953

·         Mnr PJ Badenhorst, 1954

·         Mej A du Toit, 1955

·         Mnr D Smit, 1956

·         Mnr Melt van der Spuy, 1959

·         Mnr G de Ronde, 1964

·         Mnr Grobbelaar, 1968

·         Mnr Vlok, 1969

·         Mej van Rensburg, 1970

·         Mej Scheepers, 1971

·         Mev Scheepers, 1973

·         Mnr Bertie van Straaten, 1983 – 2006

·         Mev Friena Maritz, 2006 – 2011

·         Mev Elsabe Barkhuizen, 2011 – 2017

·         Dr Gerrit Jordaan, 2017 – tans.

Die Preekstoel Van Moedergemeente George

Van die preekstoel is daar min bekend, omdat die notules  van daardie tyd nie beskikbaar is nie. Die “Baastimmerman en Schrijnwerker” Heyne, het die plan van die preekstoel ontwerp en dit self gemaak. Die preekstoel word die eerste keer genoem in Februarie 1840 toe Heyne, wat op George woonagtig was, die plan ingelewer het.

Presies ‘n jaar daarna was die preekstoel klaar! Die stinkhout daarvoor gebruik is deur die kerk gekoop van verskillende persone, onder andere JC Gericke, terwyl ‘n groot deel deur Rex van Knysna gelewer is. Die kerk het ook self die timmerliede wat Heyne gehelp het, betaal. Die preekstoel het altesaam Riksdalers 2923 (ongeveer £200) gekos. Hiervan is Rds2223 met kollektelyste in die gemeente ingesamel en die res van AM Meyer geleen.

Die preekstoel het Ds Ballot baie na aan die hart gelê. Hy het self met Heyne alles gereël. Die geld wat vir die doel gekollekteer en geleen is, is aan Ds Ballot persoonlik toevertrou om wanneer nodig aan Heyne die nodige voorskotte te gee, sodat daar nie die minste oponthoud “in de werksaamheid van de gemelde stoel moge plaats hebben”. Jan Wahl het vir die vergulde bol, wat min gemeentelede seker nog bo-op die preekstoel opgemerk het, Rds 19 ontvang. Die twee stinkhoutpilare aan weerskante van die kateder, wat die dak van die preekstoel ondersteun het, is later verwyder en deur onooglike ystertrekke na die dak vervang.

Die preekstoel is van soliede stinkhout, en of hy nog honderd jaar sal staan, weet ons nie, want die tekens van die tye is ook aan hom sigbaar. Die houtwurm het aan die preekstoel se stinkhout oorlog verklaar.

In 1939 is grootskaalse verbeterings aangebring waaronder die preekstoel sorgvuldig skoongemaak en gepoleer is. In 1944 egter was die kewers nogeens verantwoordelik vir herstelwerk aan die kewer-gevrete poot van die preekstoel. Die kanselkussings word ook in 1958 vervang. In 1974 is die hulp van kenners weer ingeroep om kewers in die staanders waarop die kroon van die preekstoel rus te bestry.

Mnr Piet Maritz word bedank vir die pragtige herstelwerk aan die preekstoel waartydens die vernis waarmee die pragtige stinkhout bedek was, verwyder is. In 1978 word ‘n indringende verslag opgestel vir grootskaalse herstelwerk. Daar is beklemtoon dat die kerkgebou ‘n historiese gedenkwaardigheid is en behoorlik gerestoreer moet word veral met die oog op die viering van die 175st bestaansjaar van die gemeente in 1988. Tussen al die woelinge deur word broer Bentley versoek om ondersoek in te stel na die herstel van die preekstoel in sy oorspronklike vorm, veral met die verwydering van die stange bokant die preekstoel wat aanstoot gegee het, sowel as die terugplasing van die vergulde bal op die kroon, wat op ‘n onbekende wyse lank gelede verdwyn het.

Al die Leraars van Moedergemeente George

 

Leraar Tydperke Jare
Herold, TJ 1813 tot 1823 10
Geen Leraar 1823 tot 1827 04
Ballot, JSS 1828 tot 1862 34
Kuys, AGM 1863 to 1877 14
Muller, CFS 1877 tot 1887 10
De Beer, ZJ 1887 tot 1895 08
Rossouw, DJJ 1896 to 1912 16
Beyers, JA 1912 tot 1923 11
Hurter, JA 1921 tot 1936 15
Van der Merwe, PP 1925 tot 1929 04
Lotter, GJ 1931 tot 1947 16
Klopper, JS 1936 tot 1948 12
Du Toit, DF 1943 tot 1947 04
Lochner, JG 1947 tot 1950 03
Heymann, HP 1947 tot 1951 04
Pistorius, CWI 1948 tot 1953 05
Du Toit, DF 1951 tot 1967 16
Gous, AGS 1953 tot 1958 05
Hay, EJ 1955 tot 1967 12
Marais, S 1958 tot 1964 06
Malan, DW 1959 tot 1961 02
Muller, BA 1961 tot 1964 03
Kellerman, JS 1965 tot 1969 04
Marais, JS 1967 tot 1970 03
Lategan, BC 1968 tot 1969 01
Jordaan, P 1969 tot 1978 09
Thom, JD 1969 tot 1974 05
Robertson, AM 1971 tot 1978 07
Moolman, JG 1974 tot 1983 09
Crouse, MA 1976 tot 1979 03
Van Niekerk, WP 1978 tot 1981 03
Du Toit, JCK 1978 tot 1983 05
Van der Merwe, JA 1978 tot 2006 28
Van der Merwe, JSD 1982 tot 1983 01
Malherbe, UP 1984 tot 1987 03
Sahd, MP 1984 tot 1993 09
Van Rooyen, M 1988 tot 1998 10
Badenhorst, W 1984 tot 2004 20
Louw, JA 1993 tot 2014 21
Bekker, H 2005 tot 2019 (Bejaardebediening) 14
Van der Walt, JS (Dr) Sedert 2007 Huidiglik in bediening
Pieterse, AC (Dr) Sedert 2015 Huidiglik in bediening

Kerkklokke van Moedergemeente George

Weens die uitgestrektheid van die dorp het die kerkraad groot moeilikheid ondervind om ‘n doeltreffende klok te kry. Aanvanklik het Landdros van Kervel goedgunstiglik aan die kerk verlof gegee om die distriksklok te gebruik. Die eerste eie klok wat die kerkraad besit het, is in Augustus 1815 geskenk deur JJ Botha en het Rds 17.0.0 gekos. Hierdie klok was egter te klein en is volgens kerkraadsbesluit die volgende jaar op ‘n publieke veiling verkoop vir Rds 38.0.0 en die kerk het weer die distriksklok gebruik. Omtrent 2 jaar later, Mei 1818, koop die kerk op ‘n publieke veiling van die afslaer van der Hoven ‘n ander klok vir Rds 101.4.0. Hierdie klok het ook nie aan sy doel beantwoord nie en is drie jaar later aan CF Pohl van Sandkraal vir Rds 100.0.0 verkoop.

Op ‘n Kerkraadsvergadering, gehou op 6 Oktober 1822, het Ds Herald bekend gemaak dat sy agent in ” de Hoofdplaats ” (Kaapstad) vir die kerk van George ‘n “ongemonteerde” klok aangekoop het vir Rds 200.0.0.

Een van die kerkraadslede het aangebied om hierdie klok kosteloos in Kaapstad te gaan haal en die smid, Craell, het dit vir Rds 25.0.0 opgesit. Dog ook hierdie klok het nie aan sy doel beantwoord nie en op versoek is dit aan die Landdros “voor rekening van ‘t district” weer vir Rds 225.0.0 verkoop. Op versoek van Ds Herald is ene Collison, ‘n koopman van Kaapstad, versoek om “een zwaarder gewicht voor Kerkenraden uit Engeland te ontbieden” . drie klokke dus binne 10 jaar en ‘n vierde op pad!

Vanaf 1822 tot 1843 het die kerkraad dus weer nie ‘n eie klok gehad nie. Hulle het vir byna 20 jaar die distriksklok gebruik. In daardie jaar het die kerk weer ‘n nuwe klok gekoop wat in 1842 in Londen gegiet is. Toe die kerkraad op 12 Augustus 1843 besig was met ‘n vergadering, het die koster die vergadering meegedeel dat die nuwe klok in die toring aangebring is en of “mens wenschte van dezelfs gelui eenen proeve te neemen” . Daarop het die kerkraad eers verdaag om aan die wenk uitvoering te gee. Eindelik, nadat die gemeente dertig jaar oud was, het hulle ‘n geskikte klok vir die uitgestrekte dorp gehad. Die klok het dus vir 62 jaar diens gedoen, maar het ongelukkig ‘n bars opgedoen toe die toring in 1905 geval het en onbruikbaar geword. In 1951 is die klok aan die dogtergemeente Blanco geskenk waar dit in gebruik was by die kerksaal totdat die gemeente in 1975 ‘n kerkgebou gekry het, waarop die klok teruggegee is aan Moedergemeente  George wat dit as ‘n monument op die terrein opgerig het.

Met die herbou van die toring is die klok aangeskaf wat vandag nog in gebruik is. Hierdie klok, reeks no 2030, wat in 1906 deur die firma Gillett & Johnston Founders van Croydow, Engeland, gegiet was, was geskenk deur ‘n Engelsman, ene Mr FS Philipson Stow, met die versoek dat die klok se naam Florence moet wees. (Dit is ‘n ou Engelse tradisie dat alle klokke name gehad het). Toe hy gevra word hoekom dit gedoen moet word, antwoord hy dat sy suster se naam Florence was en dat sy ‘n baie harde stem gehad het en wanneer die klok lui kan die hele dorp haar stem hoor. Hierdie verhaal is vertel deur Clayton Allsop, kleinseun van Janet Groenewald (gebore Ballot) wat op haar beurt weer ‘n kleindogter was van Ds Ballot. Dit is in Ds Ballot se dienstyd alhier (1830 tot 1842) dat die teenswoordige kerk gebou is.

Behalwe dat die klok gelui word om Eredienste, begrafnisse en troues aan te kondig, is die klok egter ook aan die horlosie gekoppel en slaan die ure. In die toring is daar twee verdere kleiner klokke (deur dieselfde firma gegiet en persoon geskenk) wat aan die horlosie gekoppel is om die kwartiere en halfure te slaan. Hulle reeks no’s is 2031 & 2032.

Die persoon wat die klok lui (gewoonlik die koster) word ‘n beieraardier genoem na aanleiding van die woord beier wat die lui van die klok beskryf. Die klok word op een uur vooraf en dertig minute voor elke Erediens gelui vir vyf minute lank. Dit beteken dat die klok gemiddeld 38 uur per jaar lank gelui word. Die klok word ook nog gelui deur die trek van ‘n tou.


Die aankoop geskiedenis

Aangekoop Prys Verkoop vir
Augustus 1815 Rds17.0.0 Rds 38.0.0
Mei 1818 Rds 101.4.0 Rds 100.0.0
6 Oktober 1822 Rds 200.0.0 Rds 225.0.0
12 Augustus 1843 Skenking Gekraakte Monument
1906 Skenking Huidiglik in gebruik